Pryse wink vir fliek oor SA fotograwe
2012-01-21 10:28
,toJohannesburg – Ondanks ’n swak vertoning by die loket is die fliek The Bang Bang Club benoem vir sewe Kanadese Genie-toekennings, waarvan vier van die benoemings vir Suid-Afrikaners is.
Dié toekennings is soos die Oscars en vereer Kanadese flieks en TV-programme.
Die Suid-Afrikaanse regisseur Steven Silver is vir die beste regie en beste verwerking van ’n boek benoem. Emelia Weavind, kunsregisseur, is benoem vir die beste produkontwerp en Philip Miller, komponis, vir die beste klankbaan.
The Bang Bang Club vertel die storie van vier nuusfotograwe wat die township-geweld in die doodsnikke van apartheid gedokumenteer het.
Hoewel die storie en boek waarop die fliek gegrond is sy oorsprong in Suid-Afrika het, is dit ’n Kanadees-Suid-Afrikaanse produksie waarvoor ’n groot deel van die finansiering van Kanada gekom het, het Lance Samuels, vervaardiger, gesê.
Volgens Indigenous Film Distribution, die verspreider, het die fliek plaaslik sowat R1,4 miljoen by die loket verdien.
“Ongelukkig is dit minder as wat ons verwag het,” het Samuels gesê.
“Hoewel dit moeilik is om jou vinger op die probleem te druk, kan dit te wyte wees aan die politiek gelaaide tema. Mense is deesdae net so sat daarvan.”
- Beeld