Prinse se niggie in hof
2011-02-01 08:42
Kaapstad – Prinse William en Harry se niggie Amelia Spencer (18) sal na verwagting Dinsdag in Kaapstad se landdroshof op ’n aanklag van aanranding verskyn.
Spencer is die dogter van graaf Charles Spencer, prinses Diana se broer.
Die voorval het op 29 Desember by die kitskosrestaurant McDonald’s in Groenpunt gebeur.
William Booth, bekende Kaapse prokureur, sal Spencer in die hof verteenwoordig.
“Ons het al ons papierwerk in orde en sal Dinsdag (vandag) ons vertoë aan die hof rig,” het Booth Maandag gesê.
Vroeër is berig Spencer (18) en Ricci Cinti (27), oudpres. F.W. de Klerk se buurman in die Kaapse spogbuurt Fresnaye, het mekaar op 29 Desember glo by dié kitskos-restaurant te lyf gegaan.
Cinti het na bewering voor Spencer ingedruk in die ry by die diensvenster vir motors.
Die voorval het omstreeks 02:30 plaasgevind.
Spencer het haar glo vererg en Cinti, wat in ’n taxi gery het, gevloek en geskel toe dié voertuig voor haar ingedruk het.
Na berig word, het Spencer uit haar motor geklim en teen die bakwerk van die taxi geslaan voordat sy Cinti – wat intussen uit die taxi geklim het – glo sleggesê het.
Cinti, wat weens ’n sportbesering met krukke geloop het, het in die loop van die argument sy balans verloor, geval en sy kop teen die grond gekap. Hy was ’n ruk lank bewusteloos ná die valslag.
Hy is agterna na ’n plaaslike hospitaal gebring, waar hy ’n breinskandering ondergaan het.
’n Onbekende vriend van Spencer, wat saam met haar in die motor was ten tyde van die voorval, het glo ook uitgeklim en by die onderonsie betrokke geraak.
Spencer en haar vriend het later in hul motor geklim en weggery, maar nie voordat omstanders die registrasienommer afgeneem het nie.
Later is ’n klag van aanranding by die Seepunt-polisiekantoor ingedien.
Spencer is op 7 Januarie in hegtenis geneem en op waarskuwing vrygelaat.
Haar vriend se betrokkenheid by die voorval word nog ondersoek en hy sal moontlik ook vandag op dieselfde aanklag verskyn.