Pretville verdien groot by loket
2012-11-27 12:33
Kaapstad – Pretville, die nuwe Afrikaanse musiekprent wat in die vyftigerjare afspeel, het in sy openingsnaweek meer as R900 000 verdien, is bekend gemaak.
Die film het op 23 November in Suid-Afrika begin draai en is naas die internasionale treffer Twilight Saga: Breaking Dawn Part 2 tweede op die lys van topverdieners.
Pretville het groot studiotitels soos Taken 2, sowel as Sammy's Adventures 2 en Paranorman uitgestof by die loket.
"Ons is baie bly oor die rolprent se vertoning by die loket tydens die openingsnaweek," het Helen Kuun, uitvoerende hoof van Indigenous Film Distribution, gesê.
Kuun het verder gesê dit is die perfekte rolprent vir die somer en die opkomende vakansietydperk.
Lizz Meiring, Steve Hofmeyr, Rina Nienaber, Emo Adams, Margit Meyer-Rödenbeck en Willem Botha, is almal in die rolverdeling. Die gewilde akteur Terence Bridgett vertolk die rol van die flambojante haarkapper en burgemeester van Pretville.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24