Precious wen groot toekenning
2009-09-20 03:20
Toronto – ‘n Fliek oor ‘n mishandelde tiener genaamd Precious het Saterdag die People’s Choice toekenning by die Toronto internasionale filmfees gewen en voorspellings aan die brand gesit dat die hartroerende fliek kan regstaan vir ‘n Oscar.
Piers Handling, mede-direkteur van die Toronto filmfees, het gesê dat die fliek se ongelooflike sukses baie soos verlede jaar se verrassende sensasie “Slumdog Millionaire” is.
“Ek dink mense wil regte stories oor regte mense, wat op een of ander manier getoets word, sien, en wat aan die einde van die dag hopelik bo uitkom,” het Handling gesê.
“Nou dat ek daaraan dink het dit baie in gemeen met verlede jaar se ‘Slumdog Millionaire’”.
Die fliek handel oor ‘n oorgewig tiener wat vir die tweede keer deur haar pa swanger gemaak word.
Die akteurs sluit in Gabourey (Gabby) Sidibe, Mo'Nique, Lenny Kravitz en Mariah Carey. Tyler Perry en Oprah Winfrey is uitvoerende vervaardigers.
Die People’s Choice toekenning sluit $14 000 (R104 000) se prysgeld in en is deur Laurie May. mede-president van die vervaardigingsmaatskappy Maple Pictures, namens Precious aanvaar.
- AP