RESENSIE: Harry Potter-tafel vol onheil gedek
2010-11-24 09:00
Beeld
Harry Potter and the Deathly Hallows, Part 1
Nu-Metro
As Harry Potter jou tot dusver bly ontwyk het, is dit ’n slegte idee om te dink die nuutste (en tweedelaaste) uitreiking gaan jou in sy wonderwêreld verwelkom.
As jy nie weet wat voorheen gebeur het nie, gaan jy aan die kortste ent van die towerstaf trek. En met die aanduiding in die titel dat dit die eerste deel van twee flieks is, moet jy verder weet dat hierdie uitreiking nie op sy eie kan staan nie.
Dit rus op die skouers van Harry Potter (Daniel Radcliffe) en sy vriende Hermione (Emma Watson) en Ron (Rupert Grint) om die Horcruxes te vind, want dit is die enigste manier om lord Voldemort (Ralph Fiennes) te stuit voordat hy onsterflik word en sy boosheid op die wêreld loslaat.
Soos hierdie gegewe beloof, is daar genoeg drama, aksie en avontuur – soos wat ’n mens kan verwag van ’n Potter-fliek.
Daar is ook ’n gevoel dat ons drie vriende nou onherroeplik besig is om deure agter hulle toe te maak. Met ’n enkele towerspreuk – “obliviate” – vee Hermione haarself uit haar ouers se lewe en heugenis.
Die drie is nou op hul eie, en vir die grootste deel van die tyd is hulle op vlug. Hulle lyk meer gekwel en vol vertwyfeling as wat ons hulle vantevore gesien het. En soos Harry se vyfuur-skaduwee ons herinner, is hulle nie meer kinders nie en is dit sonder twyfel die einde van die wêreld soos hulle dit ken.
Ron voel ook die koue hand van jaloesie om sy hart, maar dit gee aan Harry en Hermione die kans om uit te klaar dat hulle toe wel net vriende is.
Ten spyte van oomblikke van opflikkering, is die toon oorwegend donker. Somber kleure, verlate stede en donker woude is die agtergrond vir die aksie, maar dit beteken beslis nie dat die fotografie nie betowerend is nie.
Hoewel aan die lang kant, sleep die fliek jou veral visueel mee. En in die slangtoneel was ek dankbaar dat dit toe nie in 3-D was soos aanvanklik beplan nie!
Waar Voldemort aan die begin van die fliek met sy samesweerders bose planne smee, hang die liggaam van ’n onderwyseres van Muggle Studies gesuspendeer oor hul tafel. Dit is een van die ontstellendste tonele in die fliek en hierdie gevoel van onderliggende onheil bly deurgaans aan die borrel.
Gegewe die feit dat die tafel hier vir ’n “deel 2” gedek word, eindig dit ook allermins gelukkig.
Aan die einde van Deathly Hallows toon die telbord Voldemort 1 – Harry 0.
* Word deel van Nuus24 se Facebook-gemeenskap.
- Beeld