Poppemeesters dans die ballet van die gebaar
2011-05-14 07:45
Die Burger
Eers het die produksie War Horse Londen oorrompel; in New York is teatergangers gaande daaroor; en pas is die Kaapstadse groep Handspring Puppet Company met ’n spesiale Tony-prys beloon.
Gesels jy met die twee stigterslede, Adrian Kohler en Basil Jones, kan jy hul opwinding verstaan. Hulle borrel, glimlag van oor tot oor. Hulle lyk, om eerlik te wees, soos twee seuns wat eerste prys by die tombolatafel ontvang het.
“Ons voel eintlik onkant betrap deur dié skielike faam,” vertel Jones met ’n selfspottende glimlag.
“Dit voel nog onwerklik,” borduur Kohler voort oor wat hy noem die “hoepla”. “Maar een of ander tyd moet die bohaai einde kry. En ons moet steeds aanhou om goeie werk te doen.”
Tegnies het hulle klaar hul volgende projek gedoen. Die stuk Or You Could Kiss Me is onlangs in Londen opgevoer, voor groot gehore en met ’n goeie ontvangs.
“Dis goed om te weet daar is lewe ná War Horse,” sê Jones.
Nou is hulle hard aan’t werskaf in hul ateljee in Muizenberg – daar is heelwat perdmarionette wat gebou moet word vir die derde War Horse-produksie, wat vroeg volgende jaar in Toronto open. En dan moet hulle ook poppe bou vir die eerste reisende produksie, wat volgende jaar in die VSA begin.
Londen, New York, Toronto – het hulle ooit gedroom die produksie sal soveel sukses behaal? Glad nie, beklemtoon Kohler. “Ons het maar gehoop vir ’n tweede seisoen in Londen.
“Buitendien, om ’n nuwe verhoogstuk te skep is so vol probleme en uitdagings ons het nie veel verder as dit gedink nie.”
Hulle gesels nou met gemaklike nostalgie oor die benoude oomblikke van daardie eerste seisoen in Londen in 2007– gehore wat “aan die slaap” geraak het tydens die voorskoue, toe die stuk nog te lank was; poppe wat gebreek het op die verhoog en vinnig tydens die pouse reggedokter moes word.
“Ons was ver van sukses,” beklemtoon Jones. “Ons was nader aan ’n ramp.” Eers kort voor die amptelike opening het sake begin regloop. “Skielik het ons net gesien hoe die gehalte styg. Skielik het die lelike eendjie ’n swaan geword.”
En nou is daar geen meer twyfel oor die gehalte van die produksie – of die werk van sy skeppers – nie.
Die twee poppemeesters glimlag ingenome en vertel dan dat hul fokus nou veral val op die ontwikkeling van mense.
“Ons fokus daarop om jong mense aan te moedig en te bemagtig om leierskapsposisies in Handspring op te neem.
“Dit verskaf ongelooflik baie plesier om werk te fasiliteer vir jong mense,” beklemtoon Jones.
Dít is te sien in hul samewerking met Janni Younge, ’n teater- en popmaker wat begin vanjaar as regisseur by Handspring aangesluit het. Hulle werk nou saam met Younge aan haar produksie Ouroboros, wat op 1 Junie in die Baxter-teater in Kaapstad open.
Ouroboros is veral vir hulle opwindend, want dit het betrekking op soveel van hul idees om die punt van die poppespel.
“Mense vra ons altyd ‘hoekom poppe’,” sê Kohler.
“En Ouroboros beantwoord dit so goed,” vervolg Jones.
“Die stuk gaan oor ’n verhouding tussen ’n man en vrou.
“Soveel van wat in verhoudings gebeur, vind plaas sonder woorde. Dit vind plaas in wat ek noem die ballet van die gebaar.”
In hierdie opsig is die pop of marionet ideaal vir die uitbeelding van hierdie “klein choreografie van die alledaagse lewe”.
Maar meer as dit, beklemtoon Kohler, meer as wat dit gaan om die liefde om marionette: “Janni se mikpunt, en ons s’n, is om mense sover te kry om met mekaar te kommunikeer.
“Uiteindelik is dít die veld van die poppespel.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger