Poppe van William, Catherine in trouklere te koop
2011-08-19 13:38
Londen – Nie te lank gelede nie het Prins William en sy vrou, Catherine, se trou-uitrustings die wêreld aan die praat gehad.
Aanhangers van dié koninklike paartjie kry nou kans om weer in die opwinding te deel danksy twee miniatuur-poppies van dié twee in hulle trouklere wat nou op winkelrakke in Londen beskikbaar is.
William, nou bekend as die hertog van Cambridge, is geklee in sy Ierse weermaguniform en Catherine, hertogin van Cambridge, in haar wit trourok.
Dié poppe lyk presies soos die paartjie op hul troudag op 29 April gelyk het.
Die poppe is deur die Britse maatskappy Arklu gemaak en is by die Hamleys-speelgoedwinkel in Londen te koop.
Catherine se pop het selfs haar oorbelle, tiara, verloof- sowel as haar trouringe, skoene en ruiker.
Die poppe saam kos $160 (sowat R1 000) of $80 (sowat R570) vir die pop wat soos Catherine lyk. William se pop word nie alleen verkoop nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP