Polisiehoof bedank oor Chris Brown-skandaal
2013-02-13 11:56
Los Angeles – Die polisiehoof van Richmond in Virginië het bedank ná ongerymdhede in dokumente vir die sanger Chris Brown se gemeenskapsdiens ontdek is.
Aanklaers het Brown verlede week daarvan beskuldig dat papierwerk vir sy gemeenskapsdiens nie behoorlik voltooi is nie, en dat hy dalk selfs oneerlik was.
Brown moes gemeenskapsdiens doen na hy sy meisie, Rihanna, in 2009 aangerand het. Hy is toegelaat om die gemeenskapsdiens in sy tuisstad, Richmond, te voltooi.
Die dokumente is glo onder die toesig van polisiebeamptes in Richmond voltooi, maar aanklaers beweer dat die dokumente datums toon waarop Brown oorsee was.
Bryan Norwood, polisiehoof van Richmond, het besluit om oor die bewerings bedank, het UPI.com berig.
“Ek het die bedanking van Bryan Norwood as hoof van die polisie vir die stad van Richmond aanvaar,” het Dwight Jones, Richmond se burgemeester, Dinsdag aangekondig.
Brown moet weer op 5 April in die hof verskyn in 'n poging om die bewerings oor sy gemeenskapsdiens te weerlê.
– Volg Nuus24 op Twitter