Polanski maak film uit tronk
2009-10-15 12:17
Londen - Die filmregisseur Roman Polanski is besig om sy nuutste film vanuit ‘n Switserse tronksel te voltooi.
Robert Harris, die skrywer van die boek waarop die film, The Ghost, gebaseer is, het aan The Times in Londen gesê Polanski wil graag die film voltooi voor die premier daarvan by die Berlynse filmfees in Februarie.
“Polanski kan nie telefoonoproepe maak nie, maar hy kan op ander maniere vanuit die tronk kommunikeer,” het Harris aan die koerant gesê.
"Wat die publiek gaan dink van die film is die groot vraag," het hy bygevoeg. "Of dit verwagtinge sal kan oortref met die regisseur wat op ‘n afstand is, weet ek nie.
"Ons sal die publiek moet oortuig daar bestaan nie so iets soos slegte publisiteit nie,” het Harris gesê.
Polanski (76) is verlede maand in Zürich kragtens 'n 32 jaar oue lasbrief vir die verkragting van 'n dertienjarige meisie in 1977 in die VSA in hegtenis geneem.
Die Poolse filmmaker het in 2002 ‘n Oscar-toekenning vir sy film The Pianists ontvang. Hy het egter nooit na Los Angeles gegaan om die toekenning te ontvang nie.
- Reuters