Patricia terug, soek nóg sangtalent
2009-12-23 10:02
Thinus Ferreira
Kaapstad – Sy is terug en soek weer sterre.
Patricia Lewis se werklikheidsreeks, Supersterre, keer aanstaande jaar terug vir ’n derde seisoen om nog nuwe sangtalent te soek.
SABC2 het bevestig dat die gewilde reeks, wat deur Lewis vervaardig word en waarin sy ook verskyn, weer na die kanaal terugkeer. Lewis het gister gesê SABC2 het die ja-woord vir nog ’n seisoen gegee. Die uitsaaier het dit kort daarna bevestig. Die derde seisoen sal op Vrydag 19 Maart begin.
“Ek is baie opgewonde. Daar wag baie verrassings en groot dinge. Kykers moet seker maak hulle skakel in,’’ het Lewis uit haar vakansiehuis op Ballito aan die KwaZulu-Natalse kus gesê. Kykers sal minstens een nuwe beoordelaar in die reeks sien. Niekie van den Berg het sedertdien ’n politikus geword, wat sy deelname aan die nuwe Supersterre onmoontlik maak.
Die vorige twee seisoene is in onderskeidelik 2006 en 2007 uitgesaai.
- Volksblad