Patricia slaan asems weg en kry klakouse stil
2010-06-13 08:10
Rapport
Kaapstad - Patricia Lewis sê sy is top heavy en haar borste het ’n lewe van hul eie.
“Ek kan nie help as hulle partykeer my vertonings oorskadu nie,” spot sy.
Dié gewilde sangeres en aanbieder van Supersterre op SABC2 sê kykers het alle reg gehad om te kla oor verlede week se episode toe haar bates amper uit haar rok gespring het.
“Ek stem heeltemal saam. Dit was ’n bietjie waaghalsig. In die kleedkamer gaan dit dol met hare en grimering en almal wag vir jou. Daar is nie tyd om te sien wat alles gaan spring as ék spring en dans nie.
“Toe ek die beelde op die skerm sien, het ek besef die hals was net te laag. Daar was té veel lewe.”
Patricia sê daar is twee spesifieke rokke wat ’n bietjie te veel bates gewys het in die reeks.
“As ek gewig aansit, is dit heel eerste in my borste. Ek moes myself letterlik die afgelope paar weke in die rokke giet.”
Die rok wat sy vir Vrydagaand se eindronde gedra het toe Burger le Roux as wenner gekroon is, is egter spesiaal vir haar gemaak.
“Al die rokke is deur Pieter Bondesio van Bondesio International Couture gemaak,” vertel Patricia.
“Hy is baie bekend en het ook Izak Davel se vrou, Mericke, se trourok gemaak.”
Volgens Patricia is sy net voor die afskop van die reeks aan hom voorgestel.
“Die rokke was klaar gemaak toe hy dit kom wys het. Daar was nie genoeg tyd om nuwes te maak nie, so ek het dit op die nippertjie gekry.
“Dis almal die mooiste rokke wat ek nóg in my lewe gedra het… en ek het al báie gedra.”
Die duurste rok was ’n ligpers skepping van R75 000, terwyl baie van die ander rokke by R5 000 begin het.
Die rokke is net geborg vir die aand se opname, waarna Patricia dit weer “met ’n seer hart” teruggegee het.
Vrydagaand se rok van goudmetaal-materiaal is spesiaal vir haar gemaak.
“Alles was toe en die rok het perfek gepas – dit is dié mooiste rok, en dié keer is dit myne,” sê sy.
Die kosprys van die gala-aand se rok was sowat R5 000.
“Ek het van die vorige reekse se rokke omgeskep en byvoorbeeld die Swarovski-kristalle afgehaal, wat op die nuwe rok gebruik is. Dit het die rok goedkoper gemaak.”
Oor Supersterre sê Patricia sy is geweldig trots op elke deelnemer.
“Dis ’n baie emosionele reeks as jy sien hoe die kinders van dag een af tot nou gegroei het. Almal voel soos aangenome kinders vir my.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport