Patricia Lewis se Supersterre terug op TV
2010-01-29 08:00
Amanda de Lange
Johannesburg - Daar is weer sterre op die horison nadat Patricia Lewis en SABC2 die strydbyl begrawe het.
Kykers kan nou uitsien na ’n splinternuwe weergawe van Lewis se gewilde TV-reeks Supersterre, wat in Maart sal begin.
Lewis het gister aan Die Burger gesê sy is baie opgewonde oor die nuwe reeks en werk reeds hard daaraan.
“Ek het nog altyd in Supersterre geglo en omdat ons nog al die borge vir die reeks gehad het, het ek ’n klompie maande gelede weer die reeks aan SABC2 voorgelê.”
Toe SABC2 die reeks sowat twee jaar gelede gekanselleer het, het bronne by dié kanaal aan Die Burger gesê Lewis was nie “verteenwoordigend” van die Afrikaanse mark nie.
Daar is onder meer ook gesê Afrikaners wil nie ’n “poppie met blonde haarverlengings wat op die verhoog rondspring, hê nie”.
Ed Worster, programhoof van SABC2, het gister gesê hy weet nie wie dít beweer het nie, en kan dus nie namens hulle praat nie. “Wat my betref, is dit glad nie die geval nie.”
Lewis het gesê sy het geen kwade gevoelens teenoor SABC2 nie.
Hoewel die afgelope twee jaar vir haar “moeilik” was, is sy gedwing om anders na die lewe te kyk.
“Ek moes na ander maniere kyk om geld te verdien en het gereken as ek met beperkte talent ’n loopbaan uit musiek kon maak, kan ek met beperkte talent ook ’n loopbaan uit iets anders maak!”
- Die Burger