Parow hoor dis ’n dogtertjie
2012-01-28 07:05
Kaapstad – Die rapper Jack Parow gaan ’n dogtertjie ryker word.
“Ek is baie happy, ek wou nog die heeltyd ’n dogtertjie gehad het,” het Parow, ook bekend as Zander Tyler, Vrydag gesê.
Op die vraag of hulle al die babakamer pienk geverf het, het hy gesê: “Ons is nie eintlik fans van bright pienk nie. Miskien ’n ligter pienk...ons sal sien.”
In Desember het Parow die nuus oor die swangerskap beskryf as: “Dis ’n f—n mal ding, maar so exciting.”
Sy vriendin, die swemdragmodel Jenna Pietersen, vertel op haar blog van die 4D-skandering wat hulle op 13 weke in Desember laat doen het.
“Die dokter was baie vriendelik en sy het presies verduidelik wat sy gaan doen en waarvoor sy kyk.”
Pietersen skryf dat sy in ’n stadium moes op en af spring aangesien die baba op haar maag gelê het en vas aan die slaap was.
“Uiteindelik het ons baba omgedraai gekry en die dokter kon alles sien wat gemeet moes word.”
Volgens haar was dit ’n groot verrassing vir albei toe hulle hoor dit is ’n dogtertjie.
“Zander wou nog die heeltyd ’n dogtertjie gehad het, maar almal om ons het gedink dit gaan ’n seun wees.
“Sy het met albei hande wawyd oop geslaap en volgens die dokter is dit ’n teken van goeie breinontwikkeling en dat sy ontspanne is.
“Ek kan nog steeds nie glo ek het my dogter in my maag nie. Ek kan nie wag om met haar op die strand te speel, op kamp-uitstappies te gaan en kolwyntjies te bak nie.
“Ek sal net vrede moet maak met die kleur pienk.
“Ek is nie die grootste voorstander van pienk nie. Wel, goed. Miskien dan babapienk.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger