Herrie oor vloekende Parow by gesinsfees
2011-01-31 10:00
Kaapstad - “Weg met Jack Parow!”
Kapenaars is hoogs ontsteld oor die vuilbek-kletsrymer Jack Parow se optrede by die buitelug-musiekfees K-Day, het Rapport berig.
Dié fees – wat as die grootste in sy soort in die Kaap geadverteer word – word op 19 Maart deur die radiostasie 94.5 Kfm en Santam op die Val de Vie-wynlandgoed buite die Paarl aangebied.
Maar die radiostasie is so oorval met klagtes dat Parow se optrede by dié gesinsdag blykbaar nou heroorweeg word.
Hy self is min gepla. “Dis nie my k*k nie – ek worry nie.”
Colleen Louw, bestuurder van 94.5 Kfm, sê hulle neem elke klagte ter harte.
“Ons is trots daarop om inhoud aan ’n breë spektrum luisteraars te bied wie se waardes ons respekteer.
“K-Day is net ’n verlengstuk van hierdie filosofie; daarom sal ons seker maak dieselfde waardes word by dié fees weerspieël.”
Die ander kunstenaars wat in aksie gaan wees, is Arno Carstens, Prime Circle, Loyiso, Danny K, Flash Republic, La Vuvuzela, Good Luck, Chad Saaiman en Dr Victor and the Rasta Rebels.
Sedert bekend gemaak is dat Parow deel uitmaak van die vermaak, word 94.5 Kfm oorval deur luisteraars wat kla oor sy vloekery op die verhoog.
Hulle sê K-Day is veronderstel om ’n gesinsdag te wees.
Die omroeper Lee Downs het Woensdagmiddag selfs op die lug gesê 94.5 Kfm het Parow gevra om sy optrede “rustiger te maak”.
“Jy hoef nie bekommerd te wees oor Jack by K-Day nie. Dis ’n gesinsdag en al die kunstenaars verstaan dit só,” sê Downs.
Parow sê hy het al by ’n geleentheid van Highveld Stereo opgetree en het toe die “skoon weergawe” van sy vertoning gedoen.
“Ja, Kfm het my gevra om rustiger te wees. Ek gaan nie vloek op die verhoog nie – behalwe as ek ’n fout maak. Kom ons hoop nie so nie.”
* Parow se matroostaal het in September ook vir groot ongelukkigheid gesorg toe Juanita du Plessis blykbaar nie gemaklik gevoel het om die verhoog met hom by Huisgenoot se Skouspel te deel nie.
Doepie du Plessis, haar man en bestuurder, het in ’n “informele gesprek” met die organiseerders sy kommer oor Parow uitgespreek.
Parow is later aan die program onttrek.