Parlotones maak ''duurste video nog'
2009-12-20 12:24
Dis die duurste musiekvideo wat nog in Suid-Afrika vervaardig is.
Die resep? Al die lede van The Parlotones, 35 dansers met dieselfde soort bou en pruike spesiaal in China gemaak, ’n spesiale hyskraan, ’n kamera en ’n tamaai pakhuis.
Danny de Wet van Sovereign Entertainment, The Parlotones se bestuurspan, sê die video vir Life Design is deel van ’n “multi-miljoenrand-projek” wat die musiekgroep in samewerking met KFC doen en die video is inderdaad “die duurste tot nog toe in Suid-Afrika”. Hy wou nie ’n bedrag bevestig nie, maar volgens bronne beloop net die koste van die video sowat R3 miljoen.
“Ons is baie opgewonde oor die eindproduk,” sê Kahn Morbee, hoofsanger . “Daar is soveel dinge wat dié video spesiaal maak – veral die kamerategniek wat vir die eerste keer ter wêreld gebruik word.”
Die spesiale hyskraan van 100?m waarop die kamera gemonteer is, is in Kaapstad aanmekaargesit en per pad na Johannesburg vervoer. Daar is die video oor drie dae in ’n yskoue pakhuis onder leiding van Eric van Wyk verfilm. Die tegniek wat gebruik is, behels dat die kamera op die hyskraan in die rondte beweeg teen nét die regte spoed en elke keer ’n ander danser afneem.
De Wet sê dit kan met ’n helikopterskroef vergelyk word. “As die skroef teen ’n stadige spoed beweeg, lyk dit of dit baie vinnig beweeg. As dit eers die optimale spoed bereik, lyk dit amper of die skroef staties is – en dit skep ’n hipnotiese effek.”
Morbee sê: “Dis nogal moeilik om dié video te oortref, maar ons is reeds besig om te werk aan die video vir Stars Fall Down. Dit gaan meer animasiewerk insluit.”
- Rapport
Vir meer hieroor, besoek Rapport.