Paris Hilton in WB-hof
2010-07-03 00:11
Kaapstad – Die internet is aan die gons sedert gerugte die ronde begin doen het dat die sosiale vlinder, Paris Hilton, in Port Elizabeth in hegtenis geneem is.
Die Suid-Afrikaanse skindertydskrif, Heat, was eerste om op hulle Twitterblad aan te kondig dat Hilton in hegtenis geneem is weens die feit dat sy ‘n verbode middel gerook het.
Intussen het eNews en Eyewitness News beide bevestig dat Hilton by die Mount Road-polisiestasie in Port Elizabeth aangehou is en dat sy Vrydagaand glo in een van die spesiale Wêreldbeker-howe sou verskyn.
Hilton is met besoek aan Suid-Afrika tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi. Sy is glo by die Nelson Mandelabaai-stadion vasgetrek nadat sy dagga gerook het. Sy het die wedstryd tussen Nederland en Brasilië bygewoon.
Dié partytjiedier het intussen haar eie Twitterblad opgedateer sonder enige verwysing na die voorval.
“Suid-Afrika is beeldskoon. Ek is mal daaroor,” het sy laaste getweet.
Nuus24 het die Mount Road-polisiestasie gekontak, maar hulle kon nie die gerugte bevestig nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24