Paniek ná Madonna-bekruiper uit hospitaal ontsnap
2012-02-10 11:01
Los Angeles – 'n Man wat daarvan skuldig bevind word dat hy die popkoningin Madonna nie in vrede wil laat nie en "erge gewelddadige neigings toon" het uit 'n psigiatriese hospitaal ontsnap, het die polisie Donderdag in Los Angeles gesê.
Robert Dewey Hoskins (54), wat gedreig het om die popster se keel af te sny, is in 1996 skuldig bevind dat hy haar bekruip het.
Hoskins het Vrydag uit die hospitaal ontsnap, het 'n woordvoerder gesê.
Hy is in 1996 tot tien jaar tronkstraf gevonnis en is na sy vrylating na 'n hospitaal oorgeplaas waar vasgestel is dat hy 'n "geestelik versteurde oortreder" is.
Hoskins is in Julie verlede jaar, 'n jaar nadat hy uit die hospitaal ontslaan is, wéér in hegtenis geneem en by die Metropolitan-staathospitaal in in Norwalk, suidoos van Los Angeles, opgeneem.
"Hoskins is hoogs psigoties wanneer hy nie sy medikasie geneem het nie en toon ook gewelddadige neigings," het 'n polisiebeampte aan mense gesê en gevra dat hulle op die uitkyk vir hom moet wees.
Madonna het in 1996 tydens Hoskins se verhoor getuig dat sy herhaaldelik nagmerries gekry het sedert sy die hawelose man naby haar huis in April 1995 gesien het.
Volgens Madonna het Hoskins aan haar lyfwag gesê hy is daar om haar weg te neem en dat sy veronderstel is om sy vrou te wees.
"Hy het ook gesê as hy my nie kan kry nie gaan hy my keel afsny van oor tot oor."
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP