Oud-7de Laan-akteur met dagga betrap
2010-09-10 07:40
Bloemfontein - ’n Voormalige 7de Laan-akteur is op die Bloemfonteinse lughawe met ’n pakkie groen twakkies in sy bagasie betrap.
Chris van Niekerk, bekend vir sy rol as Francois in 7de Laan, het blykbaar ’n klein hoeveelheid dagga in ’n banksakkie in sy handbagasie gehad toe hy Woensdag omstreeks 07:50 van Bloemfontein na Stellenbosch sou vertrek.
Volgens Van Niekerk is die papegaaislaai egter net ’n manier om hom te help om van sy pyn ontslae te raak.
’n Dagvaarding om in die hof te verskyn is aan hom uitgereik, maar hy het besluit om eerder ’n skulderkenningsboete te betaal om die formaliteite te vermy.
Volgens kapt. Harry Nagel, ’n polisiewoordvoerder, het sekerheidsbeamptes ’n verdagte voorwerp in Van Niekerk se handbagasie opgemerk toe hy dit deur hul skandeerders laat gaan het.
Hulle het hom gevra om sy sak oop te maak en het toe op ’n klein banksakkie, met ongeveer 0,015 gram dagga, afgekom. Volgens Nagel is die dagga se straatwaarde ongeveer R100.
Van Niekerk het glo beweer die dagga is deur sy dokter aan hom voorgeskryf, maar kon nie bewys hiervan lewer nie.
Die polisie is toe ingeroep en dié het die dagvaarding aan hom uitgereik.
Volgens Nagel is dié soort dagvaarding soortgelyk aan ’n verkeersboete en die beskuldigde kan ’n hofverskyning vryspring as hy besluit om eerder die boete te betaal.
Van Niekerk het toe die R100-boete betaal en was steeds betyds vir sy vlug na Kaapstad.
Hy het Donderdagaand in Stellenbosch in die bekroonde toneelstuk Dinsdae by Morrie opgetree.
’n Baie verleë Van Niekerk het aan Die Burger gesê die dagga help om sy pyn te verlig nadat hy glo al twee keer sy nek gebreek het.
“Ek is in permanente pyn en al my vriende en kollegas weet dit. Ek rook die goed net om te kan slaap.”
Van Niekerk het gesê hy maak gewoonlik saans omstreeks 21:00 ’n tee van die aaptwak eerder as om dit te rook.
“’n Senuwee in my arm is vasgeknyp en dis verskriklik. My dokter weet dat ek dit gebruik, al het hy dit nie voorgeskryf nie,” het hy gesê.
“Ek rook glad nie sigarette nie en word ook nie eens in die openbaar dronk nie!”
Van Niekerk het Die Burger na sy dokter verwys om sy storie te bevestig. Die dokter wou egter nie kommentaar lewer nie, omdat sy verhouding met sy kliënt vertroulik is.
- Die Burger