Oscar-wenner sal rol van Winnie vertolk
2009-11-20 03:42
Thinus Ferreira
Kaapstad. – Die Oscar-bekroonde Amerikaanse aktrise Jennifer Hudson gaan Suid-Afrika binnekort besoek om die rol van Winnie Madikizela-Mandela in ’n rolprent te vertolk.
Die rolprent, Winnie, word volgende jaar in Kaapstad, op Robbeneiland, in Johannesburg en die voormalige Transkei verfilm. Die Suid-Afrikaanse filmmaker Darrel J. Roodt, wat ook vir CryThe Beloved Country en Sarafina verantwoordelik was, gaan die regisseur wees.
Die draaiboek is gegrond op Anne-Marie du Preez Bezdrob se biografie, Winnie Mandela: A Life.
Die verfilming van Winnie sal einde Mei begin en Hudson behoort ook die temalied van die fliek te sing in haar eerste fliekrol ná die geboorte van haar baba.
Invictus, wat ook in Suid-Afrika verfilm is en waarin die Amerikaanse akteur Morgan Freeman as oudpres. Nelson Mandela sal verskyn, begin op 11 Desember in Suid-Afrika draai.
- Die Burger