Oprah se SA-program uitverkoop
2009-11-07 11:11
Kaartjies na die kletskoningin Oprah Winfrey se vertoning, wat einde November in Suid-Afrika gaan plaasvind, het in vier minute uitverkoop.
Verkope het Maandagoggend oopgemaak en kaartjies het R750 per persoon gekos.
Kaartjies is net aan mense verkoop wie die November uitgawe van die O Magazine gekoop het. Op die tydskrif was ‘n unieke kaartjienommer, en het mense tot twee kaartjies elk beperk.
“Indien kaartjiehouers gedink het die program gaan handel oor Oprah se gunsteling dinge, gaan hulle teleurgesteld wees, want die vertoning gaan ‘n motiveringspraatjie wees.”
“Oprah en Samantha Page, redakteur van die Suid-Afrikaanse O Magazine, gaan praat oor die tema ‘Jy het die krag,’ het die Saturday Star berig.
Oprah se gunsteling dinge, ‘n jaarlikse instelling van haar program, handel oor ‘n lys dinge waarvan sy daardie spesifieke jaar gehou het. Die hele gehoor word dan op die dag bederf met al die luukshede en geskenke.
Haar verassende pakkies het al gewissel van Blackberry selfone, rekenaars tot duur deftige jasse.
Maar die Suid-Afrikaanse gaste van haar program gaan vir hul R750 elk ‘n geskenkpakkie, ‘n ses maande subskripsie van die O Magazine en ook ‘n lekker ontbyt ontvang.
Die program op 30 November word gesien as ‘n inspirerende oggend met Oprah.
- Sapa