Oprah, Gaga moet renosters help’
2011-09-02 09:07
Bloemfontein – Van Lady Gaga en Oprah Winfrey tot die Amerikaanse miljardêr Donald Trump is genader om te help om renosters in Suid-Afrika uit die kloue van wrede stropers te red.
’n Skakel na ’n YouTube-video wat die wrede lyding van een van etlike honderde renosters wat vir sy/haar horing gestroop is duidelik uitbeeld, is op Twitter aan dié glanspersoonlikhede gestuur asook aan die akteur Ashton Kutcher, sanger Taylor Swift, Britse rockster Ozzy Osbourne en die Suid-Afrikaanse Idols-beoordelaar en omroeper Gareth Cliff.
Camrin Bouwer (27), ’n meganiese ingenieur van Musina in Limpopo en ’n ywerige aktivis vir die stop van renosterstropery, het gesê omdat sy nie ’n geweer kan dra en al die renosters in Suid-Afrika heeltyd beskerm nie, gebruik sy haar rekenaar om dié diere te beskerm.
“Ek het dié beeldmateriaal wat enigiemand sal skok vir hulle gestuur met die hoop dat dit hulle sal laat ondersoek instel in wat met renosters in Suid-Afrika gebeur,” het sy gesê.
Bouwer het egter nog geen terugvoering van dié bekendes gekry nie.
Haar hoop is om druk op die regerings van Suid-Afrika en Asië te plaas om renosterstropery nek om te draai.
Die video is ook gestuur aan Julius Malema, ANC-jeugligaleier; Helen Zille, DA-leier; Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad; Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC; en dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding en hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP).
“Wie weet of hulle dit gekry het? Ek kan nie agteroor sit en kyk hoe nóg ’n spesie voor my oë uitsterf nie.
“Weet jy, ek het gister ’n R10-noot opgetel en daarna gestaar – het die renoster só waardeloos geword soos die geldnoot waarop sy afbeelding pryk?,” het Bouwer gesê.
Bouwer is aktief betrokke by aanlynpetisies om renosterstropery stop te sit.
Sy wil nog die Suid-Afrikaanse Lugdiens smeek om op alle vlugte ’n voorlegging te doen om toeriste oor die erns van renosterstropery in te lig en dat mediese navorsing getoon het renosterhorings het geen medisinale waarde nie.
“Dit is dieselfde materiaal soos naels en hare.”
Dit het alles begin in Maart en April verlede jaar, toe renosterstropery “die hoogte in geskiet het”, het Bouwer gesê. “Ek en ’n paar vriende het op ’n dag gesit en idees uitgeruil oor hoe ons dit kan stop.
“Ons het (die petroleumreus) Sasol gekontak en ons idees soontoe gestuur omdat hy gereeld met ‘wêreldklas-uitvindings’ vorendag kom en groot ontdekkings maak.”
Hiervan het ook nog niks gekom nie.
Haar voorstelle:
* Kunsmatige horings moet aangebring word– die egte horings van renosters word “veilig” verwyder en met ’n kunsmatige een vervang, waarna dit geverf word sodat horingstropers kan sien dit is vals; en
* Om die horing self te vergiftig sodat die skadelik vir menslike of ander gebruik is, maar nie giftig is vir die renoster nie.
“As jy renosterstropers nie kan verslaan nie, word deel van hulle. Begin met renosters boer met die spesifieke doel om hul horings te verwyder.
“Wat het van ons menslikheid geword? Ek voel so skaam oor hoe klaaglik ons misluk het as bewaarders van die wêreld.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger