Oppikoppi-plakkaat 'te riskant' vir Pta
2010-07-31 06:32
Beeld
Johannesburg - ’n Tekening wat pres. Jacob Zuma met skewe tande uitbeeld, was een te veel vir die Tshwane-metromunisipaliteit.
Die munisipaliteit het besluit die plakkate vir vanjaar se Oppikoppi-musiekfees, wat van 6 tot 8 Augustus naby Northam in Limpopo gehou word, mag nie op lamppale in Pretoria verskyn nie.
Die tema vir vanjaar se fees is “Sexy.Crooked.Teeth”.
Toe die kunstenaar Anton Kannemeyer opdrag gekry het om ’n plakkaat vir die fees te ontwerp, het hy dit in sy kenmerkende strokiestyl gedoen.
Op sy plakkaat is meisies in bikini’s en daaronder die gesigte van verskeie figure, onder andere een wat soos Zuma lyk.
“Te riskant,” het Ralph Williams van die munisipaliteit gesê. Hy is een van twee munisipale amptenare wat besluit of plakkate die lamppale mag haal of nie.
“Een van die gesigte lyk soos pres. Zuma, en hoewel dit belaglik is om te sê dat niemand ’n afbeelding van hom mag maak nie, het ons in dié geval gevoel dat dit nie aanvaarbaar is nie. Die plakkaat is net te polities en gevaarlik en sou omstredenheid veroorsaak het.”
Volgens Williams kan die aansoekers teen die besluit appelleer.
Misha Loots, Oppikoppi-organiseerder, het gesê hulle het nie verwag die plakkaat sou afgekeur word nie, maar is nie juis ontsteld daaroor nie.
“Dit is vir ons eintlik nogal half cool. Oppikoppi gaan juis daaroor om die grense ’n bietjie te toets en te verskuif.”
Die Johannesburgse metro-munisipaliteit het ook geweier dat die plakkate teen dié stad se lamppale verskyn, glo omdat dit “te kommersieel” is, aldus me. Marlize ten Kroonden van die maatskappy Adreach, wat die verspreiding en voorlegging van die plakkate hanteer.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld