Ontkleeklub dagvaar 'Octomom'
2012-07-11 12:45
West Bridge, Florida – Die vrou wat bekendstaan as “Octomom” is gedagvaar nadat sy nie ‘n ooreenkoms nagekom het om vertonings by ‘n ontkleeklub in Florida te doen nie.
T’s Lounge in West Palm Beach het Nadya Suleman, wat ooreengekom het om kaal bolyf te dans in agt vertonings wat Woensdag sou begin, gedagvaar.
Die klub vra vir ‘n interdik wat haar sal verhoed om in ‘n ander klub op te tree.
Suleman is gedagvaar om in die hof te verskyn, maar geer verhoor is nog vasgestel nie. Dit is onduidelik of die kwessie opgelos sal word voordat sy Vrydag by The Playhouse Gentleman’s Club in Hollywood optree.
Telefoon en e-posboodskappe wat vir Gina Rodriguez, ‘n woordvoerder vir Suleman, gelos is, is nie Dinsdag beantwoord nie.
Die dispuut het begin kort nadat Suleman op 3 Junie ‘n kontrak geteken het om by T’s Lounge op te tree.
‘n Verteenwoordiger van Suleman het twee dae later kennis gegee dat sy moet kanselleer omdat sy kwaad was oor ‘n televisie-onderhoud waar ‘n kroegman van die klub haar “mal” genoem het.
“Sy sal nie belaster word deur die klub wat haar bespreek het of in ‘n slegte situasie inloop nie,” het die boodskap gesê.
Volgens Suleman se kontrak moet sy 35 dae kennis gee. Volgens die hofgeding het sy slegs 34 dae kennis gegee.
Die kontrak verbied Suleman ook om by ‘n ander ontkleeklub binne 80 km en 90 dae van die geskeduleerde vertonings in West Palm Beach op te tree.
T’s Lounge dagvaar Suleman vir ‘n bedrag groter as $15 000 (R 122 905).
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP