Ons was nie besluitnemers in apartheid – Bobby
2012-02-11 08:30
Pretoria – Jongmense moet begin bydra tot die land se welstand en besef hulle het die reg om ’n verskil te maak.
Só het die sanger Bobby van Jaarsveld Vrydag gesê.
“Ons was nie in die apartheidsjare, waar al die strooi begin het, besluitnemers nie.
“Ek wil graag help om jonges bewus te maak dat hulle ’n reg het om op te staan vir dit waarin hulle glo.”
AfriForum het Van Jaarsveld vandeesweek genooi om ’n lid van dié beweging te word.
“Ek het onmiddellik ‘ja’ gesê. Die moordsyfer in die land is belaglik. Mense is altyd erg ontsteld oor renosterstropery en hoewel ek daarmee ook simpatie het, huil ek dubbel so hard oor elke moord. ’n Moordsyfer wat hoër is as die padsterftesyfer is absurd.”
Beeld het dié week berig dat Suid-Afrika ál land ter wêreld is waar die moordsyfer hoër as die padsterftesyfer is. Volgens ’n Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge-studie is 13 803 mense in die 2010-’11-boekjaar in botsings op Suid-Afrikaanse paaie dood en 15 940 mense in dié tyd vermoor.
Dis nie dat Van Jaarsveld ’n politieke aktivis wil word nie, het hy gesê. “Ek glo daaraan om iets te steun wat tot jou land se welstand sal bydra.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld