Onderhoud: Mnr. SA 'n 'all-rounder' om mee te reken
2011-02-21 11:24
Kaapstad - Dit sit nie in enigeen se broek om as Mnr. Suid-Afrika gekroon te word nie, maar Adriaan Bergh het al van kleins af geweet dat hy eendag dié titel sal wil verwerf.
Die 23-jarige Bergh is die jongste persoon ooit om die Mnr. Suid-Afrika-titel te wen.
“Ek ervaar nog ‘n warboel van gevoelens, ek is opgewonde en het dit glad nie verwag nie,”het Bergh Sondag per telefoon aan Nuus24 gesê.
Hy erken egter dat die kompetisie baie sterk was en elkeen van die finaliste is ‘n wenner.
Bergh, wat verlede jaar as ‘n bourekeningkundige graad gevang het, gaan vanjaar tesame met sy pligte as mnr. Suid-Afrika ook sy honneursgraad deeltyds by Tukkies voltooi.
Hy is oorspronklik van Bela-Bela maar woon tans in Pretoria om sy studies te voltooi.
Oor al sy pryse wat hy gewen het kon hy nie veel uitwei nie omdat hy nog nie presies weet wat hy gewen het nie.
Hy gaan juis Maandagoggend na die kantore van Mnr. Suid-Afrika om die administrasie uit te sorteer, sy pryse te ontvang en ook sy projekte vir die jaar te kies.
Op ‘n vraag oor wat die eerste ding was wat hy gedoen het nadat hy gekroon is, het Bergh geantwoord: “Ek het foto’s geneem, baie foto’s. My wange is nog steeds seer. Ek dink dit was die meeste foto’s wat ek al in my hele lewe geneem het,” het hy geskerts.
Die kriteria waaraan die top 12 gemeet was, was hoofsaaklik hul persoonlikheid, of soos Bergh dit stel: ‘Hulle het ‘n all-rounder gesoek’.
“Die afgelope week het die top 12-finaliste baie aktiwiteite saamgedoen. Ek het ook baie hegte vriendskappe opgebou, vriendskappe wat nog baie ver paadjies saam gaan loop.”
En die groot vraag op elke jong meisie se lippe of Bergh enkellopend is? Ja hy is…
- Volg Nuus24 op Twitter.