Omstrede regisseur maak film oor Strauss-Kahn
2012-02-06 17:55
Parys – Die omstrede Amerikaanse regisseur Abel Ferrara sê hy gaan ‘n rolprent maak oor die seksskandaal wat die Fransman Dominique Strauss-Kahn se politieke loopbaan verwoes het.
Die Franse akteur Gerard Depardieu sal die rol van Strauss-Kahn vertolk.
Ferrara het aan die Franse koerant Le Monde gesê Isabelle Adjani sal as Strauss-Kahn se vrou, Anne Sinclair, te sien wees.
Strauss-Kahn, wat as ‘n sosialistiese mededinger vir die Franse presidentskap beskou is, het verlede Mei as die hoof van die internasionale monetêre fonds (IMF) bedank nadat hy daarvan beskuldig is dat hy ‘n New Yorkse hotelskoonmaker aangerand het.
Die aanklagte is later laat vaar, maar Strauss-Kahn word steeds deur seksskandale in Frankryk geteister.
Ferrara het aan Le Monde gesê die rolprent sal in New York, Parys en Washington verfilm word. Hy het bygevoeg dat die draaiboek reeds geskryf is.
Ferrara is bekend vir sy film Bad Lieutenant, waarin Harvey Keitel die rol van ‘n korrupte polisiebeampte in New York vertolk.
Sy rolprente handel dikwels oor donker, gewelddadige stories.
Volg Nuus24 op Twitter
- AFP