Omroepers los Radio Houtstok oor hul nie geld kry
2011-03-23 07:57
Kaapstad - Radio Houtstok se omroepers het Maandag alle bande met dié radiostasie verbreek omdat hulle nog nie betaal is nie.
Die stasie is in ’n chaos gedompel nadat hulle besluit het om die pad te vat.
Groot ongelukkigheid heers ook onder die groep omroepers oor die manier waarop dié gewilde Afrikaanse radiostasie, wat van Grootbaai in Kaapstad af uitsaai, bestuur word.
Wimpie van der Sandt, voormalige stasiebestuurder van Houtstok, het Dinsdag bevestig die omroepers het hul bande met die stasie verbreek.
“Daar is te veel negatiwiteit rondom die stasie. Dan is daar ook die kwessie van geld. Niemand kan verniet werk nie. Ons almal het gesinne vir wie ons moet sorg,” het hy gesê.
Gerugte doen die ronde dat die omroepers moontlik hul eie Afrikaanse radiostasie wil begin.
Van der Sandt het aan Die Burger gesê hulle oorweeg alle moontlike opsies om met Radio Houtstok voort te gaan.
Op ’n vraag of hulle wel ’n nuwe radiostasie gaan begin, het hy gesê hy gaan in dié stadium geen kommentaar lewer nie.
“Die oproepe en ondersteuning wat ons by Houtstok gekry het, wys daar is ’n groot toekoms vir ’n Afrikaanse radiostasie in die Kaap. Ons glo nog in die stasie en wil dit laat werk,” het hy bygevoeg.
Verskeie Houtstok-luisteraars is Dinsdagoggend onkant betrap toe hulle nie ’n omroeper tydens die ontbytprogram gehoor het nie.
Op die stasie se Facebook-blad het dit ook gegons oor die redes waarom die aanbieders daar weg is. Luisteraars was ook verdeeld en het nie geweet wie se kant om te kies nie.
Louis Baartman, uitvoerende hoof van Radio Houtstok, het bevestig al die aanbieders het Maandag geloop.
“Jy moet maar met húlle hieroor praat. In dié stadium is ek nie bereid om te praat nie,” het hy gesê.
Baartman moes sy lyf aanbieder hou toe daar Dinsdagoggend nie ’n aanbieder was nie.
Intussen word net musiek op die radiostasie gespeel.
- Die Burger