Omroeper 'nie jammer' oor F-woorde
2011-09-30 11:26
Kaapstad – Mark Esterhuysen, die omroeper wat deur Eyewitness News afgedank is oor 'n tirade op die lug, het in ‘n verklaring gesê hy is nie jammer vir wat hy gedoen het nie.
Die 23-jarige Esterhuysen, wat die nuus Dinsdagoggend om 01:00 moes lees, het die F-woord tydens dié uitsending 13 keer gebruik.
"Ek is nie jammer vir wat ek gedoen het nie. Alles is geregverdig in liefde en oorlog," het hy in 'n verklaring op sy blog gesê.
"Graeme Hosken is een van die redes hoekom ek my geloof in die media verloor het. Ek het na hom gegaan met my storie van korrupsie en intimidasie in die polisie. Hy het nie die waarheid gerapporteer nie. Hy het probeer om koerante te verkoop. Toe ek ‘n e-pos aan die Pretoria News oor die onregverdigheid gestuur het, is ek geïgnoreer."
Hy het die inskrywing afgesluit deur sy vriende en ondersteuners te bedank.
"Dankie vir al die liefde en ondersteuning. Ek sou nie kon voortgaan as dit nie vir julle wonderlike mense was nie."
– Kliek hier om na Esterhuysen se tirade te luister. (WAARSKUWING: kru taal).
– Volg Nuus24 op Twitter.