Okosa moet sê oor TopTV se porno-kanale
2013-01-18 08:09
Johannesburg – TopTV het 'n aansoek by die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) ingedien om drie pornografie-kanale uit te saai.
Eddie Mbalo, hoof- uitvoerende beampte, het in 'n verklaring gesê hoewel die wet openbare deelname aanmoedig, berus die finale besluit by Okosa en hang af van die meriete van die aansoek.
Mbalo het bewerings verwerp dat TopTV die aansoek ingedien het om die maatskappy te red. Dit kom nadat die betaalkanaal se uitsaaiplatform sedert 31 Oktober 2012 in ’n proses van sakeredding is.
"Dit sal dus naïef en kwaadwillig wees om te dink dat die toestemming om kanale uit te saai genoeg sal wees om 'n maatskappy, wat 'n kapitale inspuiting benodig, te red."
TopTV het voorheen aansoek gedoen om die pornografiese kanale uit te saai, maar het geen reaksie binne twee maande ontvang nie. Die maatskappy het toe besluit om sonder Okosa se toestemming voort te gaan.
Okosa het daarna 'n dringende aansoek voor die Johannesburgse hooggeregshof gebring, wat beslis het die maatskappy mag nie die kanale uitsaai totdat Okosa nie 'n besluit gemaak het nie.
Mbalo het gesê TopTV het nie aan vorige verhore deelgeneem nie en het dus nie die gesê watter beskermende meganismes in plek sal wees vir die volwasse kanale nie.
"Ons is bereid om na verskillende menings te luister, maar ons verwag dat almal die demokratiese regte van alle Suid-Afrikaners moet respekteer, insluitend die verbruikers wat 'n belangstelling het in die aanbieding."
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA