OJ Simpson dalk Kardashian se pa
2012-01-19 22:50
Los Angeles – Gerugte doen die ronde dat OJ Simpson moontlik die pa van die sosiale vlinder en realiteitstelevisiester Khloe Kardashian kan wees.
Dít kom nadat eksvroue van haar ontslape pa, Robert, beweer het Kardashian is nie sy dogter nie.
Jan Ashley en Ellen Pierson het albei hul stilswye oor die aangeleentheid verbreek en bekendgemaak Robert het aan hulle albei gesê Kardashian is nie sy dogter nie.
Volgens die Daily Mail het die National Enquirer dié nuwe bewerings gepubliseer.
'n Goeie vriend van Simpson het glo gesê die Naked Gun-ster het self bekendgemaak dat Kardashian sy liefdeskind is.
Simpson dien tans tronkstraf van 33 jaar uit vir ontvoering en gewapende roof.
"OJ het aan my gesê Khloe is sy kind," het die bron gesê.
"Dit was die groot geheim in die twee families wat niemand bespreek het nie. Robert het ook erken dat hy en Kardashian se ma, Kris Jenner, nie intiem verkeer het toe sy (Kardashian) verwek is nie.
Volgens dié bron het Simpson en Jenner op verskeie kere intiem verkeer rondom die tyd wat Kardashian gebore is. Die bron het ook die sterk ooreenkomste tussen Kardashian en Simpson se 26-jarige dogter Sydney uitgewys.
Simpson was 'n vriend van die familie en Robert het gehelp om hom uit die tronk te kry nadat hy in 1995 van die dubbele moord op sy vrou Nicole Simpson en Ron Goldman aangekla is.
– Iol.
– Volg Nuus24 op Twitter.