Nuwe Schuster-fliek draai binnekort
2012-02-11 07:05
Johannesburg – Leon Schuster se lang verwagte Mad Buddies is in die pylvak.
Boonop gaan Ed Jordan, TV-aanbieder en komponis wat vir die klankbaan van Spud verantwoordelik was, ook dié van Mad Buddies behartig, het Schuster Vrydag gesê.
“Ek is baie opgewonde om saam met hom te werk. Al die medewerkers aan die fliek het my baie opgewonde en moedig my aan om iets spesiaals aan die fliekganger te bied.”
Jordan sal teen middel Maart sowat 19 stukke musiek vir die fliek klaarhê. Mad Buddies sal in Junie, net betyds vir die skoolvakansie, begin wys.
“Die klankbaan vang die ondeundheid van die karakters vas,” het Jordan, ’n Sama-wenner, gesê.
“Omdat die wit ou, Leon, en die swart ou, Kenneth (Nkosi), teen mekaar te staan kom, het ek elemente van kwaito groove, reggae en regte sakkie-sakkie-musiek saam gebruik.”
Walt Disney, wat die fliek gedeeltelik finansier, het Vrydagaand vir die eerste keer ’n rofweg geredigeerde weergawe daarvan gesien en Schuster sal vandeesweek hoor wat hulle daarvan dink.
“Hopelik is Disney tevrede, dan hoef daar nie baie veranderinge aangebring te word nie.”
Hoewel dié fliekreus se betrokkenheid volgens Schuster die grootste deurbraak van sy loopbaan is, hang sy senuwees aan ’n draadjie.
“Ek het skoenlappers én ’n naar kol op my maag. Vanaand (Vrydagaand) sien Disney en sowat 60 mense uit die publiek die fliek. Die doel is om te hoor waarvan hulle gehou het en wat volgens hulle nie inpas nie. Disney se betrokkenheid plaas groot druk op my. Daarna begin die finale redigeringsproses wat nou al my tyd in beslag sal neem.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld