Nuwe SA-fliek 'n poëtiese reis
2010-09-21 11:34
Kaapstad – Long Street vertel die storie van ‘n talenvolle musikant, Sia (Sannie Fox) se pad na genesing en hoe sy haar haar familie, haar lewe en haar musiek herontdek.
Sy kom terug van 'rehab' af, sonder dat sy die program voltooi het, en vind haarself in al die ou, bekende strate wat haar oorspronklik na die afgrond gelei het.
Haar ma, (Roberta Fox), wat self met ‘n seer hart sit ná haar eie pa se dood, weet nie meer hoe om haar dogter te help nie. Sy’t ook nie meer die ondersteuning van Sia se pa nie, aangesien die twee skynbaar van bed en tafel geskei is.
Die man (David Butler), ‘n gefrustreerde skrywer, wil met alle mag sy familie herenig. Sia en haar ma jak egter sy lomp pogings af, onwillig om hom te vergewe vir die verlede.
Elke lid van die gebroke gesin se paaie kruis met kleurvolle karakters wat hul op die een of ander manier help om die lang pad na herstelling te voltooi.
Een van dié karakters is 'n Zoeloe sangeres, Andiswa (gespeel deur Busi Mhlongo). Haar stem en styl inspirer die jong musikant en herhinner haar aan waar haar eie inspirasie vandaan kom.
Andiswa reik ook uit na Sia se ma en op ‘n subtiel, spirituele wyse speel sy ‘n beduidende rol in die hereniging van ma en dogter.
Revel Fox het met dié fliek dit reggekry om ongelooflik baie sonder veel woorde te sê.
Hy gebruik simboliek en pragbeelde om te kommunikeer wat woorde nie altyd kan nie. Deur die uitstekende filmkuns in Long Street, herontdek 'n mens Kaapstad.
Deur die figure se interaksie met hul omgewing kry ons insig in die karakters se sielsreis na genesing. Die strate van Kaapstad word ‘n uitvloeisel van hul eie emosionele landskap, die hange van Tafelberg ‘n stil getuie van hul verhaal.
Dit sou maklik gewees het om die musikant-verslaaf-aan-dwelms storielyn van Long Street as ‘n cliché af te maak. Maar Revel Fox slaag daarin om Sia se verhaal so poëties en visueel boeiend uit te beeld, dat enige gedagtes van holruggeryde idees vinnig verdwyn.
Die film stel in elkgeval nie daarin belang om die donker gange en nuanses van verslawing uit te beeld nie. Revel Fox deel met ons die laaste geboortepyne van genesing en die lang, moeilike paadjie terug na die 'Self'.
Die klankbaan van Long Street beïndruk.
Sanie Fox se blues-rock band, Machineri, Busi Mhlongo, Leslie Javan, Alex van Heerden en Greg Georgiades het almal saamgewerk om dié film ‘n stappie verder te neem met inspirerende musiek wat, nes die film, mens lank na die tyd bybly.
Kliek hier vir 'n voorsmakie van die fliek.
Long Street begin die 24ste September by uitgesoekte teaters draai.