Nuwe Joaquin-fliek ‘n gespot?
2010-08-19 19:31
Kaapstad - Joaquin Phoenix, die akteur veral bekend om sy vertolking van Johnny Cash in die trefferfliek Walk The Line, is die fokus van en hoofrol in ‘n nuwe dokumentêre fliek, I’m Still Here.
Die regisseur van die fliek is die akteur, en Phoenix se swaer, Casey Affleck. Die dokumentêr handel oor Phoenix se wydbesproke besluit om in 2008 sy toneelspel-loopbaan te laat vaar en te fokus op die skep van hip hop- en klestrym-musiek.
Phoenix het ook skielik ‘n wilde baard en lang hare gegroei, konstant ‘n donkerbril begin dra en by sy (enkele) musiekoptredes in vuisgevegte met aanhangers betrokke geraak.
I’m Still Here is die verhaal van hierdie oorskakeling.
Op die internet gons dit egter oor of dié loopbaanskuif nie alles net ‘n groot publisiteitsfoefie en ‘n gespot was nie.
Op onder meer Youtube en die Internet Movie Data Base (IMDB) vlieg verbruikers mekaar in oor die egtheid, al dan nie, van die verhaal van Phoenix.
IMDB maak egter geen melding daarvan dat dié fliek ‘n parodie of satire is nie. Die storielyn word bloot beskryf as ‘n “dokumentêr oor Joaquin Phoenix se oorgang van die toneelspelwêreld na ‘n loopbaan as ‘n aspirant-kletsrymer.”
Die fliek begin in Oktober in Amerikaanse teaters draai.
Kliek hier om die voorskou te kyk.
- Nuus24