Nuwe Idols-beoordelaar 'sal eerlik wees'
2011-01-20 07:28
Johannesburg – Idols se nuwe beoordelaar, Unathi Msengana, het nie ’n gunsteling onder die twee nuwe manne in haar lewe, mede-beoordelaars Gareth Cliff en Randall Abrahams, nie.
“Ek is absoluut gek oor albei van hulle. Ek ken hulle albei reeds byna so lank as wat ek in Johannesburg woon. Ek en Gareth het mekaar ontmoet toe hy my genooi het om deel te neem aan die Celebrity Idols wat hy op 702 aangebied het.
“En Randall is al langer as ’n dekade baie goeie vriende met my man, Thomas. Ek het hom ontmoet toe ek by YFM saam met hom gewerk het. Hulle is albei wonderlike mense.”
Msengana sê sy sien verskriklik uit na haar nuwe werk. “Ek is baie opgewonde. Die twee dinge in die lewe wat ek die liefste het, is musiek en mense. Deur Idols kry ek die geleentheid om albei te ervaar. Ek is senuweeagtig en dis ’n reuse-taak, maar ek voel baie bevoorreg dat ek deel kan wees van die reis waarop een van Suid-Afrika se nuwe musikale ambassadeurs sal vertrek,” het sy gesê.
Die nuwe beoordelaar voel haar krag as beoordelaar sal daarin lê dat sy self ’n sangeres en liedjieskrywer is. Om dié rede kan sy empatie hê met die deelnemers. “En my werk as aanbieder by Metro FM sal my help om in gedagte te hou waarna ’n groot groep Suid-Afrikaners op soek is wanneer dit by musiek kom.”
Msengana meen dis moeilik om nou al te sê watter soort beoordelaar sy sal wees. “Ek dink die tyd sal leer, aangesien dit iets is wat ek nog nooit gedoen het nie. Ek is ’n opregte mens, so ek sal te alle tye eerlik wees.”
- Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad