Nuwe Afrikaanse dramareeks op pad
2010-02-13 10:11
Thinus Ferreira
Kaapstad – Vrugtegevegte en familievetes gaan die botoon voer in kykNET se splinternuwe dramareeks Vallei van die Sluiers wat tans in die Moederstad en in Ceres verfilm word.
Die nuwe uur lange dramareeks van 13 episodes behoort in April op kykNET te begin en spog met van Suid-Afrika se top-akteurs, onder wie At Botha, Michelle Burgers, Albert Maritz, Erica Wessels, Hannes van Wyk, en ook Nico Panagio, tans die aanbieder van Survivor SA Santa Carolina op M-Net.
Vallei van die Sluiers word in Tokai, Seepunt en Ceres verfilm na die draaiboek van Johan van Jaarsveld. Die verhaal wentel rondom hedendaagse familiedramas en –twiste op die vrugteplase van Ceres.
“Die reeks is ’n voortsetting van kykNET se verbintenis tot die Afrikaanse televisiedramagenre. Vallei van die Sluiers gaan beslis een van ons vlagskipproduksies van 2010 wees en ’n baie prominente bydrae tot die jaar se TV-landskap lewer,’’ het Haddad Viljoen, kykNET-publisiteitsbeampte, aan Die Burger gesê.
- Die Burger