Nóg 'n plaasmoord terwyl Steve ryloop
2011-02-19 10:00
Bloemfontein – Steve Hofmeyr en OFM-omroeper Tim Thabethe het Vrydagaand rondom middernag in Kaapstad aangekom – té laat om die U2-konsert by te woon, het OFM Saterdag berig.
“Pootuit,” het Hofmeyr via Twitter gesê. “Vlug canceld (sic). U2 weer gemis.”
Hofmeyr het Vrydag ‘n uitdaging van die radiostasie OFM ontvang om saam met Thabethe na Kaapstad te ryloop.
Die uitdaging het ‘n tweeledige doel gehad.
Die paar sou geld insamel vir die Agri-Securitas-fonds, wat hom met plaasveiligheid bemoei, en ook probeer om die U2-konsert Vrydagaand in die Kaapstad-stadion by te woon.
Terwyl Hofmeyr op pad was, het die nuus rondom nóg ‘n plaasmoord, die keer buite Stellenbosch, op Die Burger gebreek.
“Stellenbos (sic) plaasmoord skok. Burger berig oor duimgooi.”
Hofmeyr was onlangs in ‘n bohaai betrokke oor U2-sanger Bono se beweerde ondersteuning van die Struggle-lied met die woorde “Skiet die Boer.”
Die Suid-Afrikaanse sanger het kort ná die nuus aangekondig dat hy sy U2-konsertkaartjies opgeskeur en in die Jukskeiriver gegooi het.
Nadat dit egter aan die lig gekom het dat Bono verkeerdelik aangehaal is in die pers, het Hofmeyr die Ier skynbaar vergewe.
“In alle regverdigheid, Bono het dit duidelik gestel...dat hy nie liedjies ondersteun wat haatspraak bevorder en misdaad inspireer nie,” het Hofmeyr Donderdag op sy webwerf geskryf.
“Dankie, meneer. Ek ryloop Kaapstad toe om my Stop Plaasmoorde-plakkaat by die hekke voor die U2-konsert te wys.
“Ek sal my beslis by die U2-ondersteunersgroep voeg om die vertoning te kyk.
Volgens Thabethe se Facebook-blad het hy en Hofmeyr R1 520 op die pad ingesamel.
Verskeie maatskappye het ook voor hul vertrek uit Bloemfontein beloof om skenkings te maak.
Volg Nuus24 op Twitter.