Nog 'n Mission Impossible op pad
2010-02-10 05:06
Los Angeles - Tom Cruise is terug, al klink dit byna onmoontlik om te glo.
Die rolprentvervaardigers by Paramount Pictures het Woensdag bekend gemaak dat Cruise sy stewels weer sal vasmaak vir Mission Impossible IV, wat in 2011 die silwerdoek sal tref.
Die akteur en J.J. Abrams, regisseur van Mission Impossible III, het voorheen al ooreengekom om die vierde aksiefliek in die reeks te vervaardig. Dit was egter nie seker of Cruise weer voor die kamera sou verskyn nie.
Abrams sal hierdie keer optree as vervaardiger, en 'n regisseur vir die vierde Mission word tans gesoek. Josh Applebaum en Andre Nemec sal die draaiboek skryf, gebaseer op 'n storie-idee deur Cruise en Abrams.
Die film sal ook vir Cruise en Paramount Pictures herenig nadat die vervaardigingsmaatskappy bande met die akteur in 2006 gesny het.
- Sapa-AP