New York vier Fugard se 80ste
2012-01-04 10:09
New York – Ter viering van die dramaturg Athol Fugard se 80ste lewensjaar word vier van sy dramas vanjaar op Broadway opgevoer.
Blood Knot, The Road to Mecca, My Children! My Africa! en The Train Driver word deur die Signature Theater Company op die planke gebring, skryf Eric Gode in The New York Times.
The Road to Mecca (1984) begin op 17 Januarie.
Dit handel oor Helen Martin, ’n Afrikaanse weduwee wat haaks raak met haar tuisdorpie se inwoners wanneer sy begin om vreemde beeldhouwerke in haar agterplaas te maak.
Dit is gegrond op die skepper van die Uilhuis in Nieu-Bethesda, waar Fugard ’n tuiste het.
Oor hierdie stuk sê Fugard: “Daar’s ’n reël waarin Miss Helen sê: ‘I’ve reached the end of my journey.’
Nou die aand, by die eerste voorskou, het ek skielik besef: ‘Wow, jy nader die eindpunt van jou reis. Jy het hierdie stuk vir jouself geskryf’. Ek is nie ver van die oomblik waar al my kerse uitgeblaas gaan word nie.”
Blood Knot (1961) gaan oor die verhouding tussen twee broers van verskillende rasse, Zachariah en Morris.
Volgens Fugard lê die ontstaan van dié stuk “nie soseer in die Suid-Afrikaanse politiek as in die verhouding tussen my en my oorlede broer nie. Ek het intussen besef dit draai eintlik om die eksistensiële dilemma van ek en die Ander.”
Met My Children! My Africa! (1989) het Fugard die storie van ’n hoërskool-letterkundekompetisie gebruik om die opruiende ANC-retoriek van die tyd onder die loep te neem.
“Dié stuk kom uit die donkerste periode van die apartheidsjare, ’n era waarin my geloof in die geskrewe woord as reaksie op die politieke situasie werklik uitgedaag is.
“Ná die skryf daarvan het ek onwrikbaar geglo om woorde op papier te sit is ’n daad wat dalk selfs kragtiger as die plant van ’n bom kan wees – ná die ontploffing bly net verwoesting oor, maar woorde kan baie lank in iemand anders se kop bly steek.”
The Train Driver (2010) speel af in ’n informele begraafplaas waar die opsigter anonieme grafte met wieldoppe en ander rommel versier.
“Daar is talle naamlose grafte in Suid-Afrika. En wanneer jy tussen hulle deurloop, sien jy soms ’n bottel vol skulpies wat op een neergesit is.
Hoewel die opsigter naamlose mense begrawe, probeer hy doen wat ek in my skryfwerk probeer doen het.
Jy kan die dooies nie ’n naam gee nie, maar jy kan sê: ‘Hier lê ’n mens; ’n borrel drome en hoop wat tot niks gekom het nie.’”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld