New Moon se vampiere byt by fees
2009-10-22 20:18
Rome – Die Vampiere van die rolprent "New Moon", die opvolg van die gewilde tiener-film "Twilight" het die bloed-rooi tapyt van die Rome Filmfees Donderdag getref.
Drie van die jong akteurs wat die rolle van vampiere in die gewilde rolprent vertolk het dié film in Rome bemark en opgewonde aanhangers is verras met ‘n 20 minute voorskou van die rolprent, wat volgende maand op die silwerdoek te siene sal wees.
Die draaiboekskrywer van die film, Melissa Rosenberg, was ook by dié fees. Sy sê jong mense, veral tienermeisies, is so gefassineer met dié rolprent omdat dit oor universele temas soos eerste liefdes en gebroke harte handel.
"Almal is al daardeur of gaan nou daardeur, ek dink dit is baie passievol maar tog veilig,” het sy gesê.
Die eerste Twilight-rolprent het meer as $383 miljoen (sowat R2 miljard) wêreldwyd ingesamel en "New Moon" sal na verwagting net so gewild wees.
Volgens vervaardigers is dit meer emosioneel, het dit meer aksie en bied dit ook meer insig tot die gewelddadige en donker kant van die vampiere.
- Reuters