Net g’n keer aan Avatar in SA
2010-01-19 09:17
Johannesburg. – Die fantasie-aksiefliek Avatar het nou al sowat R32 miljoen by die Suid-Afrikaanse loket verdien.
Kaartjieverkope het die afgelope vier dae met sowat R5 miljoen gestyg, het Elisha Bholanath, woordvoerder van NuMetro Entertainment, wat die fliek in Suid-Afrika versprei, gesê.
Avatar het die afgelope naweek sowat R3,1 miljoen by die Suid-Afrikaanse loket verdien. Dit is ’n daling van 14% sedert verlede naweek.
“Dis hoogs ongewoon vir ’n fliek om in die vyfde week ná uitreiking nog soveel geld te maak. Gewoonlik is die daling vroeër. Dit is fenomenaal vir Suid-Afrikaanse kaartjieverkope,” het Bholanath gesê.
Avatar se plaaslike kaartjieverkope was vroeër verlede week die sesde beste vir alle flieks wat al in Suid-Afrika gewys het. Dit het intussen tot die vyfde posisie geklim. Dit is ook steeds die gewildste rolprent in die VSA.
- Die Burger