Natalie Wood se 'verdrinking' weer bekyk
2011-11-20 07:03
Johannesburg – Die polisie in Amerika gaan weer die dood van die Hollywood-aktrise Natalie Wood bekyk wat 30 jaar gelede onder verdagte omstandighede “verdrink” het.
Sedert haar dood het gerugte dikwels die ronde gedoen dat die akteur Robert Wagner vir haar dood verantwoordelik is.
Benewens Wagner en Wood, was die akteur Christopher Walken en die boot se kaptein, Dennis Davern, aan boord.
Amptenare het die saak destyds afgehandel en bevind die 43-jarige aktrise het verdrink. Sy was dronk en kon nie swem nie.
Dit is in hierdie stadium nog onbekend watter nuwe bewyse die polisie het en waarom die saak heropen word.
Die polisie hou vol die nuwe ondersoek het niks te make met Davern se opspraakwekkende boek waarin hy beweer Wagner is verantwoordelik vir Wood se dood nie.
Wood se suster, Lana, vra ook al baie jare dat die saak heropen word.
Bill McSweeney, die ondersoekbeampte, het Vrydag gesê met dié heropening hoop hulle om antwoorde te kry op al die tergende onbeantwoorde vrae.
Wagner, sê die polisie, is nie in dié stadium ’n verdagte nie. – LA Times
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport