Musikale ‘toebie’ lok kykers
2010-12-04 07:58
Die Burger
Kaapstad - Kurt Darren, Jack Parow, Nianell en Chris Chameleon: Deon Maas het ’n uitdaging vir julle – om deel te wees van die derde seisoen van Jam Sandwich (SABC2).
“Ek wil sien of hulle knaters groot genoeg is om deel te wees van die reeks. Hulle is almal op my wenslysie vir die derde seisoen,” vertel Maas, sigaret in die hand, by ’n tafel onder die bome in die agterplaas van MeerkatMedia se nuwe kantore in Albertville, Johannesburg.
Met die kontrakte wat reeds geteken is vir die volgende seisoen, is Maas en sy vennoot, Pauli van Dyk, besig met hul beplanning.
“Ons het maklik 50 name waarna ons kyk wanneer ons ’n seisoen beplan. Dis ’n ding wat organies groei.”
Kykers kan verwag om nuwe elemente in die derde seisoen te sien.
Die tweede seisoen, wat tans uitgesaai word, verskil reeds hier en daar van die eerste.
“Ek stel nie belang daarin om die formaat in klip uit te kap nie. In die eerste seisoen het die deelnemers vooraf geweet met wie hulle gaan saamwerk. In hierdie seisoen word dit op kamera aan hulle bekend gemaak, en die reaksies is soms nogal interessant.”
Een van die dinge op Maas en Van Dyk se wenslysie vir seisoen drie is om kunstenaars van buite die grense van Suid-Afrika by hul weeklikse musiektoebroodjies te betrek.
“So ’n soort cross-border collaboration,” verduidelik Maas. “Maar ons begroting sal bepaal of ons dit kan doen. Dit sal baie interessant wees om te sien hoe ons musiekbedryf verskil van die res van die wêreld s’n, want daar is nogal groot verskille.”
Die ding met Jam Sandwich wat hulle nogal verbaas het, vertel die twee vennote, was om te sien hoe gewild hul “left of centre-idee” op SABC2 geword het. Die tydgleuf waarin die reeks uitgesaai word (22:00 op Dinsdae), is nie ideaal nie. Hulle sou graag so ’n uurtjie vroeër hul verskyning op die kassie wou maak.
“Die AR’s (waarvolgens kykersgetalle gemeet word) is insane! Gewoonlik begin ’n reeks in daardie tydgleuf met ’n AR van 16. Ons het met 21 begin. Ons is reeds by 30. Dit wys jou jy hoef nie altyd net vir die lowest common denominator televisie te maak nie.
“Mense soek na televisieprogramme wat so ’n stappie voor die res is,” sê Maas.
Die proses waarvolgens besluit word watter kunstenaars met mekaar gaan saamwerk, is nie ’n ingewikkelde ene nie, hoewel baie tyd en aandag daaraan bestee word.
“Baie keer word daar tematies besluit,” verduidelik Van Dyk. “Wat vir ons belangrik is, is om die musiek te kan hoor. Ons wil ook nie hê dit moet lyk asof ons altyd probeer om swart en wit, ryk en arm saam te gooi nie.”
“En dit moet op kamera kan werk,” voeg Maas by.
“Ons soek na verskillende persoonlikheidstipes en agtergronde. Maar ons soek nie noodwendig na wrywing nie.”
Tot dusver vermoed Maas sommige van die groter Afrikaanse kunstenaars was dalk ’n bietjie skrikkerig om deel te word van dié musiektoebroodjie.
“Hulle is bang om soos fools te lyk. Maar die idee is nie om hulle soos gekke te laat lyk nie. Kyk, daar was al mense wat ons soos gekke kón laat lyk het – ons het dit nie gedoen nie. Wat ons wíl doen, is om die kunstenaars aan nuwe gehore bekend te stel en hulle voor ’n uitdaging te stel.”
Kurt, Jack, Nianell, Chris... luister julle?
Jam Sandwich word Dinsdagaande om 22:00 op SABC2 uitgesaai.
- Die Burger