Musiekfees bring vele musici byeen
2010-01-11 09:59
Kaapstad - Darling aan die Weskus maak hom gereed vir die vyfde Darling Music Experience (DME), wat van 11 tot 14 Februarie gehou word. Die program vir dié fees van musiek, film, wyn en kos is pas bekendgestel.
Van jong plaaslike musici tot ’n gevestigde internasionale konsertpianis sal optree, en soos in die vorige jaar word die fees afgesluit met die wêreldpremière van ’n opdragwerk deur ’n Suid-Afrikaanse komponis.
Luidens ’n persverklaring is die DME die geesteskind van die vermaarde dirigent David Tidboald, die Kaapse komponis en pianis Hendrik Hofmeyr en die musiekliefhebber Alfred Legner.
Die Suid-Afrikaans-gebore Duitse pianis Andreas Kern is die artistieke direkteur, en onder sy leiding word vanjaar ’n aanbod van klassieke en kontemporêre kamermusiek, gewilde koorwerke en jazz aangebied wat die plaaslike gemeenskap en kunstenaars op die verhoog byeenbring. Benewens musiek is geleenthede met kos en wyn ook op die program.
’n Klavieruitvoering deur Kern by Groote Post open die fees op Donderdag 11 Februarie.
Op Vrydag 12 Februarie sing ’n feeskoor gewyde en sekulêre werke in ’n piekniekkonsert voor die herehuis van die Ormonde-wynlandgoed. Die aand tree die jong Kaapse saxofoonspelers Hamman Schoonwinkel en Myles Roberts op in ’n program van werke van onder meer Poulenc en Milhaud, asook populêre musiek.
Saterdag 13 Februarie by Evita se Perron word ’n dokumentêre rolprent, El Systema, oor ’n musiekopvoedingsprogram in Venezuela, vertoon. Kern is weer die middag agter die klavier vir ’n kulinêre ervaring met die !Kwa ttu-sjef Vivienne Pieterson.
Die DME Kamerorkes speel op dié dag ook by Ormonde werke van Mozart (Eine Kleine Nachtmusik), Vivaldi (“Somer” uit die Vier Seisoene) en Sjostakowitsj se Wals no. 2.
Vanjaar is ook ’n nuwigheid op die program vir kinders, die DME Musical Rally, ’n musiekspeletjie “met die doel om klassieke musiek se beeld te verfris en meer toeganklik te maak”. Die fluitspeler Dillon Peters sal musiek maak.
Die Saterdagaand is ’n “klaviergeveg” aan die gang in die Darling-vervoermuseum wanneer Kern saam met die Kaapse pianis Tertia Visser optree. Op die program is werke van Chopin, Debussy se Claire de Lune en L’Isle Joyeuse, asook musiek van Bach, Schumann en Schubert.
Die DME Feeskoor tree op tydens ’n kerkdiens in die vlei agter Evita se Perron op Sondag 14 Februarie, terwyl jazz later die middag by The Marmalade Cat gehoor kan word. The West Coast Jazz Co tree op.
Die fees word afgesluit die Sondag om 17:30 met die wêreldpremière van die Kapenaar Matthijs van Dijk se Klarinetkwintet no. 2: Maanligdanse. Ook te hoor is verlede jaar se opdragwerk, Hofmeyr se “Lied van die Somerwind” vir fluit en viool. Farida Bacharova (viool) en Maria du Toit (klarinet) tree op, asook die danser Mamela Nyamza.
Bespreek by Computicket.
- Die Burger