Murray vertel sy weergawe in dokumentêr
2011-11-09 14:23
Los Angeles – Dr. Conrad Murray, wat daarvan skuldig bevind is dat hy Michael Jackson vermoor het, gaan alles in ‘n dokumentêr vertel wat vandeesweek gewys gaan word.
Die dokumentêr van 50 minute sal Vrydag in Amerika onder die titel Michael Jackson And The Doctor op MSNBC netwerk gewys word.
Die uitsending kom slegs ‘n paar dae nadat die 58-jarige Murray Maandag skuldig bevind is op ‘n aanklag van onvrywillige manslag in verband met die sanger se dood in Junie 2009.
Murray, wat skuld ontken het, het nie tydens die verhoor getuig nie. Hy is tans in die tronk in Los Angeles totdat sy vonnisoplegging op 29 November gaan plaasvind.
Die dokumentêr sal handel oor die verhouding tussen Jackson en sy persoonlike dokter. Murray maak ook besonderhede bekend oor sy tyd saam met Jackson. Die dokumentêr is geskiet voor Murray se skuldigbevinding.
Dit is vervaardig deur October Films en what's it all about? Produksies en is versprei deur die Britse maatskappy Zodiak Rights.
Hulle het die eksklusiewe regte vir Murray se weergawe in November 2009 bekom. Filmmakers het vir twee jaar beeldmateriaal van Murray geskiet asook tydens sy verhoor van ses weke, het Zodiak gesê.
Die dokumentêr sal Donderdag in Australië en later vandeesweek in Brittanje uitgesaai word.
Volgens mediese kenners het Jackson gesterf weens ‘n oordosis propofol en kalmeermiddels wat Murray glo aan hom gegee het om hom te help slaap.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters