Murray-verhoor: Staat sluit saak af
2011-10-25 11:18
Los Angeles – Staatsaanklaers in die verhoor van Michael Jackson se dokter, Conrad Murray, het hul saak na vier weke se getuienis gesluit.
Getuies wat deur staatsaanklaers geroep was om teen Murray te getuig het geïmpliseer dat die dokter moontlik verantwoordelik gehou kan word vir die sanger se dood in Junie 2009.
Die verdediging sal na verwagting 15 getuies roep.
Murray staan tereg op ‘n aanklag van onvrywillige manslag. Hy het skuld ontken.
Getuies wat deur staatsaanklaers geroep is het beweer dat Murray nalatig was toe hy 'n dodelike mengsel middels aan Jackson gegee het om hom te help slaap. Murray het glo ook nalatig opgetree toe hy die sanger alleen gelaat het.
Jackson het op 25 Junie 2009 by sy gehuurde herehuis in Los Angeles gesterf weens ‘n oordosis propofol nadat Murray hom dié aand nie aan die slaap kon kry nie.
Staatsaanklaers beweer Murray het die oordosis propofol aan Jackson gegee.
Die verdediging beweer egter Jackson, wat desperaat was om te slaap sodat hy gereed kon wees vir repetisies vir sy reeks beplande konserte in Londen, kon dalk self die dwelmmiddel geneem het terwyl Murray nie in die kamer was nie.
Die verdediging het op 12 Oktober dié bewering teruggetrek.
Dít laat die moontlikheid dat Jackson moontlik self die middel by sy been ingespuit het, maar die staatsaanklaers se laaste getuie, Steven Shafer, ‘n narkotiseur, het gesê dit is onmoontlik.
Die verdediging se eerste getuie Maandag was Dona Norris van die Beverly Hills se polisiedepartement. Sy het vrae begin antwoord oor die 911-oproep wat om 12:20 gemaak is op die dag van Jackson se dood.
Volgens berigte kan die verdediging hul saak teen einde van die week sluit wanneer jurielede gevra sal word om oor Murray se lot te besluit.
– Volg Nuus24 op Twitter.