Murray se optrede uiters nalatig, sê deskundige
2011-10-12 22:01
Los Angeles – ‘n Deskundige getuie in die manslag-verhoor in
Los Angeles van dr. Conrad Murray het gesê dat hy nooit vir Jackson propofol moes gegee
het om hom te help slaap nie, berig Sky News.
Dr. Elon Steinberg het gesê dat Murray “verregaande
nalatigheid” ten toon gestel het deur vir die sanger propofol vir slaaploosheid
voor te skryf.
“Hy moes nooit vir hom propofil gegee het om
hom te help slaap nie,” het Steinberg gesê.
Steinberg, ‘n kardioloog met meer as tien jaar
se ondervinding, het aan die hof gesê dat hy deur die Kaliforniese mediese raad
aangestel is om die saak te hersien.
Hy het bevestig dat die sanger se dokter in
2009 nié as ‘n kardioloog gesertifiseer was nie.
Hy het Murray gekritiseer vir die feit dat hy
nie sy pasiënt se behandeling voldoende gedokumenteer het nie.
“As hy kon onthou presies wat hy alles vir Jackson
gegee het, sou hy die dokters in die noodeenheid daarvan kon inlig,” het
Steinberg gesê.
Verder het Steinberg ook gesê dat ‘n mens
nooit ‘n pasiënt wat op propofol is, alleen moet los nie.
Steinberg het ook daarop aangedring dat Murray
die ambulans moes gebel het toe hy agterkom dat Jackson nie asemhaal nie.
Murray het in plaas daarvan self probeer om
die sanger by te bring.
“Dit maak logies sin dat hy 911 moes gebel
het.
“In my persoonlike opinie moes hy onmiddellik
911 gebel het,” het Steinberg gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.