MultiChoice in die pekel oor kaal boude
2010-04-16 14:33
Kaapstad – MultiChoice is deur die Uitsaaiklagtekommissie berispe oor ‘n program waarin plastiekpyle na seuns se kaal boude geskiet word.
Dit was in ‘n episode van Scar Tissue en is op 7 Februarie gedurende familie-kyktyd uitgesaai.
Volgens MultiChoice is Scar Tissue ‘n reeks wat gemik is op 18 tot 24-jariges en handel dit oor “verskeie waagstukke wat deur ‘n professionele span uitgevoer word oor ‘n wye spektrum van alledaagse situasies.”
Een uittreksel van dié episode wys vier tienerseuns wat teen die muur staan en ‘n boogskutter wat plastiekpyle na hul naak agterstewes skiet.
In ‘n ander deel kan weer gesien word hoe die vier mekaar se onderbroeke van agter af opruk tot by die punt waar dit skeur en hul boude gesien kan word.
Brian Makeketa, ‘n amptenaar van die Uitsaaiklagtekommissie, het in ‘n beslissing wat Vrydag uitgereik is gesê dat ‘n Laura Nankervis gekla het oor die episode wat die Sondag om 18:30 uitgesaai was – en hy het saamgestem.
“Ek het gewonder of hierdie ‘n speletjie is en watter soort speletjie dit is wat tieners deur pyn verneder, eerder as om hulle beter te laat voel,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat MultiChoice die program van die lug afgehaal het, en dat hulle gewaarsku is daaroor.
Die kommissie het Vrydag ook ‘n klag van die hand gewys oor ‘n beweerde gewaagde advertensie vir die laatnagprogram Swing Time wat om 17:30 op SABC 3 uitgesaai was.
‘n Pieter Beukes het by die kommissie gekla dat die advertensie “veroorsaak dat ons jong kinders moeilike vrae vra”.
“Vyf-jariges hoef nie oor hierdie tipe dinge te weet nie,” het hy gesê.
“Ek voel dat die SABC hierdie advertensies later moet uitsaai wanneer kinders nie so blootgestel sal word nie.”
Die SABC het geantwoord dat die advertensie uitgesaai is gedurende ‘n episode van Days of Our Lives, wat ‘n ouderdomsbeperking van 13 het en ouertoesig aanbeveel.
“Ouers moet ook verantwoordelikheid neem oor waaraan hulle hul kinders blootstel,” het die uitsaaier gesê.
- Sapa