Moslem-groep ontstoke oor South Park-episode
2010-04-22 05:48
Los Angeles - 'n Moslemgroep in Amerika het Woensdag 'n beroep op sy ondersteuners gedoen om aksie te neem teen die vervaardigers van die satiriese televisieprogram South Park vir die manier waarop die profeet Mohammed in 'n onlangse episode uitgebeeld is.
Die New York-gebaseerde Revolution Muslim-groep het 'n beroep gedoen op sy lede om protes aan te teken omdat die televisiereeks South Park die profeet Mohammed uitgebeeld het in 'n beerkostuum, het CNN berig.
Die groep se webwerf was Woensdag vir die grootste deel van die dag nie aanlyn nie, maar 'n CNN-verslaggewer het gesê die verklaring is gepubliseer saam met 'n grafiese foto van die vermoorde Nederlandse filmmaker Theo van Gogh, wat in 2004 in Amsterdam deur 'n Moslem-ekstremis om die lewe gebring is.
Die verklaring het ook die adres van die program se vervaardigers, Matt Stone and Trey Parker, se kantore in Los Angeles bevat, berig CNN.
"Ons moet vir Matt en Trey waarsku dat wat hulle doen dom is, en dat hulle lot waarskynlik dieselfde sal wees as die van Theo van Gogh omdat hulle hierdie episode uitgesaai het," het die groep gesê. "Hierdie is nie 'n dreigement nie, maar 'n waarskuwing van die realiteit wat heel waarskynlik op hulle wag."
- Sapa - AFP