Morrissey stort glo ineen tydens konsert
2009-10-25 10:37
Londen - Morrissey is in die hospitaal nadat hy die naweek op die verhoog ineengestort het, glo weens moeilikheid met asemhaling, het Britse media berig.
Die voormalige Smiths-sanger, is glo stabiel in 'n hospitaal in Swindon, in die suidweste van Engeland, nadat hy Saterdag tydens 'n vertoning ineengestort het.
Volgens aanhangers wat in die Britse pers aangehaal word, het die 50-jarige sanger by die Oasis-sentrum in Swindon opgetree en is die konsert vroeg gestop ná die voorval.
Twee van die orkeslede het glo na hom toe gehardloop en hom van die verhoog af gehelp.
'n Woordvoerder vir die Great Western Ambulansdiens het gesê hulle is uitgeroep om 'n 50-jarige man op te tel vir "asemhalingsprobleme" en dat hulle hom na die hospitaal geneem het.
- Sapa