Moore, Kutcher gaan skei
2011-11-18 08:37
Los Angeles – Die aktrise Demi Moore het Donderdag aangekondig dat haar en die akteur Ashton Kutcher se huwelik verby is.
Dít kom nadat gerugte die ronde begin doen het dat Kutcher ontrou was met die 22-jarige Sara Leal, wat vroeër bekengemaak het sy en Kutcher het in September by ‘n hotel in San Diego intiem verkeer.
Moore en Kutcher het in 2005 getrou toe sy 42 jaar oud was en hy 27. Sy was voorheen vir 13 jaar met die akteur Bruce Willis getroud.
“Dit is met groot hartseer en ‘n swaar hart dat ek besluit het om my huwelik van die afgelope ses jaar met Ashton te beeïndig,” het sy Donderdag in ‘n verklaring wat deur woordvoerder uitgereik is gesê.
“As ‘n vrou en ‘n ma is daar sekere waardes en beloftes waaraan ek toegewyd is, en dit is in hierdie gees dat ek besluit het om aan te beweeg met my lewe.”
Kutcher, wat onlangs vir Charlie Sheen op die gewilde televisiereeks Two and a Half Men vervang het, het minute ná Moore se aankondiging op Twitter gesê: “Ek sal Demi vir altyd liefhê”.
“Ek sal die tyd wat ek met Demi spandeer het vir altyd koester. ‘n Huwelik is een van die moeilikste dinge in die wêreld en ongelukkig werk dit nie altyd uit nie,” het hy geskryf.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP